Des Célliers en Susan Groenewald / Radio en TV dagboek, p. 40–41 / Monday, 19 July 1982
Met Interster het Suid-Afrika ’n mylpaal in tegnologie en kunsfotografie behaal. Die Suid-Afrikaans-vervaardigde reeks is selfs beter as die gewilde Redding Internasionaal. Dié pluimpie kom van die vervaardigers van Redding Internasionaal nadat hulle Interster tydens ’n voorskou by die Cannes-TV-fees onder die oë had.
Dirk de Villiers, regisseur van die reeks, som sy “akteurs” op: “Hulle is werklik buitengewoon. Hulle leef as te ware. Hulle is mini-robotte, klein, lewende rekenaars. Selfs hul velle gloei soos dié van ’n mens.”
Elke pop is ’n elektroniese meesterstuk. Onder sy bykans vlees-en-bloed-vel is ’n netwerk van elektroniese bedrading wat deur ’n rekenaar beheer word. Elke beweging word oor en oor geoefen voor die inligting aan n rekenaar gevoer word. Wanneer die poppe voor die kamera verskyn, is dit ’n rekenaar wat hulle beheer. In Redding Internasionaal is die poppe met die hand gehanteer.
Agter só ’n unieke projek moet net die allerbeste tegnici staan, en die vervaardigers het geen moeite of koste met die vervaardiging van Interster ontsien nie.
Die saamgestelde denkvermoë van marionetbaas, Bernard Myburgh, argitek Jan Correwijn en elektroniese ingenieur Colin Buckland, is ingespan om die poppe te maak. Die manne het dikwels vyftien uur per dag, sewe dae per week geswoeg om die robotmannetjies te vervolmaak.
Die “vel” alleen het twee jaar se navorsing geverg voor dit regisseur Dirk de Villiers tevrede gestel het. Die formule van die vel wat selfs kan bloos? Hieroor is Dirk so geheimsinnig soos ’n Russiese spioen in New York. Al wat hy wou uitlap is dat dit uit ’n mengsel van rubber en silikon bestaan.
Die poppe van Interster sal besiis nie deur ouers vir hul kinders gekoop kan word nie. Elke “speler” — afhangende van die grootte — het tussen R5 000 en R7 000 gekos.
Die ruimtereeks speel in die jaar 25 000, ’n tydperk wanneer Aarde in ’n doodstrud met die bewoners van die vyandige planeet Krokon gewikkel is.
Die hoofskurk, prins Karnati, heerser van Krokon, bygestaan deur die dubbele agent dr. Gorman, wil Aarde verower. Aarde slaan terug onder die dekmantel van Interster, ’n frontorganisasie, omdat daar nog nie ’n amptelik verklaarde oorlog tussen Aarde en Krokon bestaan nie.
Die hoof van Interster, tussenmelkweg-vervoermaatskappy, is prof. Z, ’n kwaai oubaas wat in werklikheid ’n hart van goud het. Die professor se regterhand is die sjarmante en aantreklike kapt. Buks de la Rey en luit. Adam Buys. Hulle word deur Pikkie, ’n motor-rekenaar-robot, bygestaan. Pikkie is trots en eftens verwaand omdat hy die wêreld se ontwikkeldste robot is.
Interster se hookwartier is ’n baie futuristiese Kaapstad — kompleet met Tafelberg — en dis hier waar ons die blonde skoonheid Lida de Villiers in die radiobeheerkamer aantref.
“Aksie en intriges tussen die magte van die aarde en dié van Krokon is die hootkenmerk van die reeks,” vertel Dirk, “maar daar is ook goed van Einstein se teorieë gebruik gemaak om die reeks aktueel en opvoedkundig te maak.”