Kaapse poppe maak geskiedenis

Niemand twyfel daaraan dat Afrikaanse kinderreekse met die beste ter wêreld vergelyk kan word nie. En nou word daar in Kaapstad aan ’n poppereeks gewerk wat dinge soos Redding Internasionaal lelik in die skadu gaan stel.

James Jenkins / Radio en TV dagboek, p. 46–49 / Monday, 27 April 1981

Mens moet dit kan sien om te glo.

En as jy dit gesien het, kan jy nie glo dat dit maar net ’n poppespel was nie.

Want die Kaap is op die oomblik besig om wereldgeskiedenis te maak met ’n ruimtereeks waarin poppe optree. Dis miskien nie buitengewoon nie, maar wat uniek is, is dat hierdie poppe soos robotte deur ’n komper beheer word. Hulle werk elektronies en is ook baie meer lewensgetrou as enige ander pop wat op televisie gesien word.

Suid-Afrikaanse televisiekykers behoort die reeks vroeg in die tweede helfte van die jaar te sien, want filmmaker Dirk de Villiers wil teen einde Julie 26 episodes voltooi hê.

Die eerste episode word vanjaar na die filmfees op Cannes geneem en daar word nou al gespog dat hierdie reeks oorsee besonder gewild sal wees.

Miskien is dit nie reg om die vel te verkoop voor die beer geskiet is nie, maar van die episodes is al aan mense in die filmbedryf vertoon en almal is dit eens dat dit ’n hoogetpunt in hierdie soon TV-poppewêreld is.

Eintlik kan dit nie anders as om beter te wees as die wereldtreffer, Redding Internasionaal, nie want alles is soveel moderner.

Eerstens word hierdie poppe die eerste keer deur rekenaar beheer. Elke pop kos sowat R6 000 en elkeen het nie minder nie as elf motore binnekant. Redding Internasionaal se poppe was nie so duur nie en nie so gevorderd nie.

Tweedens is die poppe so realisties dat hulle byna menslik is. Hulle het byvoorbeeld nie die kepe in die wange wat RI se poppe gehad het om hulle te laat praat nie. Nee, vir hulle is daar skedelbene soos dié van mense gemaak en daaroor is velle van silikon-rubber getrek. Hulle praat bosonder natuurlik en hul monde is die enigste dele wat nie deur die komper beheer word nie, maar wel deur ’n rubberbal wat deur in mens gedruk word.

Daarbenews is die hinderlike menshande wat so baie in RI gebruik is hierdie keer afwesig. As ’n hefboom getrek moet word, doen ’n poppehand dit.

Boonop is ruimtestede, vertuie, lugskepe ensovoort baiw meer lewensgetrou as enige van die mededingers en die aksie is van so ’n gehalte dat dit gunstig met dié in reekse soos Battlestar Galactica vergelyk.

Die reeks se naam is Interster en omdat dit ’n Kaapse produksie is, is Kaapstad natuurlik ook die hoofkwartier van Interster, ’n organisasie wat die aarde toon die wrede Krokons (dis die skurke) beskerm.

’n Indrukwekkende miniatuur-Kaapstad soos hy in die volgende eeu sal lyk, is gebou en dit moet een van die beste nabootsings wees wat nog in sulke films gebruik is. Die ruimteskepe is ook met groot verbeelding gebou.

Die poppe praat Afrikaans en het oor die algemeen Afrikaanse name. Buks de la Rey is die groot held, sy baas is professor Z en die vervaardigers glo dat ’n robot met die gewilde Afrikaanse bynaam van Pikkie dié held in almal se huise gaan word.

Die regisseur van die produksie is Gavin Keyser en daar is net trots in sy stem as hy oor die reeks praat. He vertel dat Dirk hom feitlik ’n vry hand in die vervaardiging van die stuk gegee het. Hy en feitlik net ’n klomp groentjies in die filmbedryf (nie minder nie as 90 persent) het die groot taak aangepak. Miskien was dit ’n voordeel dat die spannetjie nie veel ondervinding van rolprentwerk het nie, want hulle het ’n neutvars benadering aan die dag gelê. Die mense het ook hope talent.

Volgens Gavin kom die gedagte aan elektroniese poppe van Lindsay du Plessis en Colin Buckland, maar Redding Internasionaal het dinge aan die gang gesit.

Hy vertel ook dat “absoluut alles” in Kaapstad gemaak word en en dat daar nie net ’n bietjie oor die grootse prestasie gespog word nie. Ja-nee, die Kaap is pure poppe-Hollands.